Die Saamwerkende Gemeentes Pretoria en Wonderboom-suid: ‘n Kerk teen die Berg

Die Saamwerkende Gemeentes Pretoria en Wonderboom-suid se verhouding is per geleentheid beskryf as die handevat tussen ‘n Grootmoeder en haar Kleindogter.

Dit is een manier waarvolgens die geskiedenis van die twee gemeentes beskryf kan word en vir die bewaring en sorg wat die gemeentes geniet, is ons die Heer en Hoof van die Kerk en wêreld, Jesus Christus dankbaar.

Gemeente Pretoria, die oudste Afrikaanse gemeente in Pretoria, is op 8 September 1855 gestig. 

Dit was die behoefte aan ‘n vaste hoofstad onder die Voortrekkers wat 132 Burgers, in die streke  Heidelberg, Witwatersrand, Rustenburg en Pretoria, noop om op 1 April 1851 ‘n versoekskrif aan die Volksraad te rig waarin versoek word dat ‘n hoofstad gestig word waar die ‘dikste midden’ van die volk geleë is.

In Junie 1852 besluit die Volksraad om twee plase op die plek Bronkhorstfontein uit te hou en hierop sou mettertyd ‘n hoofstad gevestig word. Bronkhorstfontein is vandag bekend as Fonteine en al eerder, voor dit as hoofstad sou dien het Pretoria as kerkplek gedien.

Dit klink in die skrywe van die eerste Ouderling van die gemeente, Nicolaas Jacobus Smit.

Op 11 Augustus 1854 skryf hy vanaf Magaliesberg:

Waarde medebroeders en Zusters in den Heere.  Wij dinaaren der gemeente alhier, voornemens zijnde een kerkgebou alhier te stigten, op een kerkplaats die daar toe zijn uitgekoozen, en aangekogt door den Wed. gestrenge Heer MW Pretorius, Comt. Genl waar over den naam van ZijnEd. verstorfen vader nu wijlen den Wed. Heer AWJ Pretorius, die niets onbeproef gelaten, om zijn Landsgenoten vrij en gelukkig te maken, gelijk wij dan ook tans vrij en gelukkig ons kunne beschouwen onder hogere Bestuuring van den Albeschikker gezegde Kerkplaats dan zal genoemd worden Pretoria-Philadelphia, of Pretorius Broederschap....

Op 8 en 9 September 1855 het Ds Dirk van der Hoff hier ‘n kerkbyeenkoms gereël en saam met Ouderling F G Wolmarans van Potchefstroom leiding geneem met die verkiesing van die eerste kerkraad.

Die eerste ouderlinge was J F Schutte en N J Smit en die eerste diakens J L Erasmus, P J Barnard, H S Pretorius en S J Bothma.

Vanuit gemeente Pretoria het gemeente Noordelike Pretoria in 1934 afgestig en die eerste Kerkraad het  reeds op 11 November 1933 vergader.  Die eerste predikant van die Gemeente was Dr C H Rautenbach wat in 1939 as hoogleraar aan die Universiteit van Pretoria aangestel is en later as Rektor sou dien.

Ds AJG Oosthuizen is op 20 April 1941 bevestig en deur toegewyde en harde werk het die gemeente van krag tot krag gegaan, tot so mate dat gemeente Wonderboom-Suid van Noordelike Pretoria afstig.

In Julie 1970 het Gemeente Wonderboom-suid as gemeente met haar dienswerk begin en die eerste predikant, Ds DB Snyman beroep.   Ook toe het die Hervormers nie op hulle louere gerus nie.  Gronde is aangekoop en planne is op getrek en op 15 Junie 1974 is die statige kerkgebou in 10de Laan in  gebruik geneem.

Die teks by die in gebruik van die kerkgebou was die paslike teks 1 Kor. 3:9 wat tans op die gedenkplaat lees: “Want ons is medewerkers van God, die akker van God, die gebou van God is julle! ‘

Nadat Pretoria gedurende 2018 haar Kerkgebou in Du Toit str. aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank verkoop het, het die Kerkraad besluit om nie weer ‘n kerkgebou op te rig nie, maar in die lig van nuwe omstandighede en uitdagings haar gewend na Gemeente Wonderboom-suid. 

Sedert 2019 dien die twee gemeentes, die Grootmoeder en haar Kleindogter hand aan hand saam hier teen die hange en op die vlaktes van die Magaliesberg – die Kerk teen die berg of soos Christus dit aan die kerk opdra: "Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Matt 5: 13 ev. 

Dr. Christo Pretorius

Dr. Christo, dien sedert 1993 in Hervormde gemeentes soos Postmasburg, Hendrina en Breyten, sedert 2008 Gemeente Pretoria en tans die Saamwerkende gemeente Pretoria en Wonderboom-suid. Die Verkondiging van Gods woord en op grond daarvan die pastorale versorging van lidmate en die gemeenskap is die primêre roepingstaak. Saam met die Kerkraad en diensgroepe word die aanbidding deur die gemeente, barmhartigheid, Jeug-en Bejaardebediening ter harte geneem en met dankbaarheid en toewyding aan Jesus Christus word die Evangelie gekoester en gedeel.

Ds. Janine Fourie

Ds. Janine Fourie is 'n predikant wat spesialiseer in die jeugbediening. Sy is passievol daaroor om jongmense op 'n holistiese wyse te bemagtig om hul volle identiteit in Christus te ontdek. Ds. Janine werk op innoverende wyses om die hele gemeenskap van jongmense in die nabye omgewing te bereik. Die visie is om 'n tasbare verskil te maak en om hoop te saai. 

Kerkraad

'...as iemand graag ouderling wil wees, begeer hy 'n voortreflike werk.' en 'Ek het jou op Kreta agtergelaat met die bedoeling dat jy die dinge wat nog gereël moet word, in orde bring en dat jy in elke dorp ouderlinge moet aanstel...' (1 Timoteus 3 en Titus 1:5 1983 AV)

 

So rig die apostel Paulus hom in die Pastorale briewe aan Timoteus en Titus en al eerder vertel Lukas in Handelinge 6 dat diakens verkies is om om die diens van barmhartigheid ter hand te neem.

Die ampte in die Kerk van Christus het ten doel om die gemeente in geloof op te bou en hulle toe te rus vir die verkondiging, gebed en dienswerk in diens van God.  Die hart van die dienswerk word in 1 Kor 14 gevind - want God het in Jesus Christus met die sondaarmens vrede gemaak.  

 

Die Kerkraad van Gemeente Pretoria-Wonderboom-Suid streef daarna om te luister na Godswoord en al biddende sy gemeente te lei en te versorg en ons vertrou dat ons dienswerk deur die genade van ons Heer vrug sal dra.

Van Links, voor: Hester Erasmus, Simonette Venter, Dawie Pretorius, Ds. Janine Fourie, Dr. Christo Pretorius, George Rademeyer; agter: Lukas Janse van Rensburg, Peet Pretorius, Phillip van Staden, Albertus Breytenbach, Rika Joubert, Gideon Zandberg en Johan Venter (Afwesig: Thea Janse van Rensburg)

Bo: Fanie Scheffer

Bo: Johan Mienie

Bo: Celèste Richards (Ouderling en Kategese Hoof)

Bo: Bianca Burger

Bo: Alta Janse van Rensburg

Diensgroep vir die Kerklied

Naas die wonderlike gawe van die Woord van God, is die tweede gawe uit God se hand musiek, Aldus, Martin Luther. Die Diensgroep vir die Kerklied streef daarna om ‘n waardering en bekendheid met die kerklied te bevorder. Calina Gregan, Alfrieda Pretorius, Schalk Pretorius en Adéle Breytenbach lei twee weekliks op Sondae sangoefening waartydens bekende en minder bekende liedere gesing word tot eer van die Drie-enige God.  Ons streef daarna om jaarliks twee Sang geleenthede te organiseer – Hervormingsondag en Kersfees – waartydens ander gemeentes en die gemeenskap uitgenooi word om saam te deel in hierdie tweede wonderlike gawe: Musiek en sang tot God se eer.

Administratiewe bestuur

Albertus Breytenbach (Skriba: Wonderboom-suid) , Phillip van Staden (Skriba: Pretoria) en Jessie Beukes (Kerkbeampte) is verantwoordelik vir die administrasie van die gemeentes.  Ter wille van goeie orde en effektiewe bediening sien hulle toe dat korrespondensie, registers, notules en Gemeentelike argiewe versorg word en dat die nodige gereeld aan lidmate gekommunikeer word. Michele Dreyer, Koster van die Gemeente sien toe dat die voorbereidings vir die eredienste en besondere dienste vlot verloop en dat die ruimtes in en om die kerkgebou tot ons geloofsgang en aanbidding bydra.

Kategese en Jeugbediening

Ons Kategete span is saamgestel uit Celèste Richards, Rika Joubert, Erika Pretorius, Bianca Burger en Maria Deysel. Hulle sien toe dat ons kinders en jongmense toegerus word met die Woord van God en voorberei is vir die lewenspad saam met Jesus Christus.

Finansiële komitee en Projekte

George en Thea Rademeyer is nie net die rentmeesters in die gemeente nie, maar stuur ook die projekte en funksies.  Die saamkuier geleenthede soos Nagmaalsete, Teelepeltjie ete en parkie verkope is van die projekte wat daartoe bydra dat die Gemeente haar roeping en taak kan uitvoer.